
Die een groot saak wat sedert die stigting van die destydse NG Sending Kerk (1881) gereeld op die agendas van die Sinode verskyn het, het gehandel oor drank en dagga misbruik.
Dit was dan ook dié 2 woorde wat gereeld in die vergadersale van die Sinode gehoor was wanneer daar oor sosiale euwels gedebateur was.
Aan die begin was die sinodeganger tevrede om net hul kommer oor die toename in veral drankmisbruik uit te spreek en dan vertoë tot die regering te rig om die hoeveelheid drank wat gekoop kan word asook die ure waartydens dit gedoen kon word te beperk.
Geleidelik het daar egter ‘n ander toon begin deurskemer. Sinodegangers het soos wat die probleem vererger het, al hoe meer begin praat oor die kerk se verantwoordelikheid ten opsigte van die alkohol en dwelmafhanklike. Alhoemeer is besef dat dit nie net die staat se verantwoordelikheid moes wees nie, maar dat gelowiges self hul verantwoordelikheid in hierdie verband moes begin aanvaar en dat die “bekommernis” oor die lot van die afhanklike plek sou moes maak vir daadwerklike optrede.
Na talle vrugtelose pogings om iets konstruktiefs aan die probleem te doen besluit die Sinode van 1970 om ‘n Spesiale Kommissie in die lewe te roep wat ‘n kerklike Kongres moes reël. Hierdie Kongres moes dan ‘n dieptestudie doen of laat doen rondom die voorkoms van alkoholisme binne die kerk. Saam met die opdrag was daar ook ‘n Ad Hoc Kommissie bestaande uit Di. A.L. Lombaard (Voorsitter), A.D. Stevens, D.G. Murray, J.M. Olivier, C.J.A. Loff en Ouderling J.C. Beukes in die lewe geroep wat die oprigting van ‘n inrigting vir die Rehabilitasie van alkoholiste moes ondersoek.
By nadere ondersoek het die Kommissie tot die gevolgtrekking gekom dat die daarstelling van ‘n organisasie wat hom oor die nood van die alkoholis en sy/haar familie kan ontferm voorkeur behoort te geniet. ‘n Ondersoek in die gemeentes van die N.G. Sendingkerk het dan die lig gebring dat ruim 60 % van die gemeentes so ‘n liggaam begeer.
Die amptelike stigting van Christelike Alkoholiste Bond . het op 2 April 1977 te Steinthal buite Tulbach in die Wes-Kaap plaasgevind met die volgende bestuurslede:
Voorsitter : Ds. N.A. Apollis
Onder Voorsitter : Ds. L.J. de Bruyn
Sekretaris : Mnr. M.H. Wagenaar
Addisionele lede : Ds. E.E. Louw
: George Matthews
Die organiserende Sekretaris vir die Diens van Barmhartigheid t.w.
Ds. T.D. Booker het hierdie kongres gereël.
Ds. Booker sou dan ook as eerste Direkteur van CAB funksioneer en met sy vertrek na die Nuwe Lewe Sentrum in die Noord Kaap is Ds. J.S. van Rooy as sy opvolger aangestel.
‘n Terugblik op die afgelope pad bring die volgende interessante gegewens aan die lig:
Aantal takke huidiglik (2014) : 212
Aantal Geafilieerde takke : 4
Ledetal : ± 6 000
Die CAB is volkome interkerklik en lede word vanuit verskillende kerklike denominasies sowel as die gemeenskap getrek. Voorsiening is ook gemaak vir geaffilieerde takke, wat onder hul eie naam funksioneer om deel van die groter groep te word en hierdie takke word op presies dieselfde wyse bedien.
C.A.B. beskik tans oor ‘n wye verskeidenheid van Lektuur en in sy bestaan is ook 3 videofilms oor alkoholisme en dwelmmisbruik vervaardig.
Baie van die bestaande materiaal is in Engels vertaal en die naam van die C.A.B. het intussen verander na Christelike Afhanklikheids Bediening om voorsiening te maak vir die nood van die middelafhanklike en hul gesinne asook om enige vorm van afhanklikheid aan te spreek.
Gedurende die afgelope 27 jaar is verder ook die Horison Projek in die lewe geroep en wel op 1 Oktober 1988 , om as voorkomingsprojek onder die jeug gebruik te word. Huidiglik word die projek as deel van die CAB bestuur en beskik dit oor ‘n volledige stel modules van 10 wat geskik is om kinders en jeugdiges tussen die ouderdomsgroepe 8-21 jaar te begelei, deur veral op die aanleer en ontwikkeling van lewensvaardighede te fokus.
Verdere vordering is gemaak met die in gebruikneming van die Cottage Program ,wat ‘n gemeenskapsgerigte voorkomingsprogram onder veral volwassenes behels. Met hierdie program wat aan huise van lede van die gemeenskap aangebied word ,word gepoog om onkunde rondom die verskillende tipes dwelms wat beskikbaar is uit die weg te ruim.
Die CAB is ook as geloofsgebasseerde nie regeringsorganisasie geregistreer en beskik oor sy eie NPO nommer.
Die CAB plaas ‘n hoë premie op skoling en lede van die organisasie sowel as ander belangstellendes word deurgaans geskool en toegerus om diens van uitstekende kwaliteit te kan lewer.
Opleiding word tweejaarliks dwarsdeur Suid Afrika aangebied en ‘n nasionale kongres word ook tweejaarliks gehou ten einde beleid te bepaal, bestuurslede te verkies en verslag van werksaamhede te bespreek.
‘n Lys van al die beskikbare lektuur is op aanvraag beskikbaar.
GESKIEDENIS / HISTORY